Gayton McKenzie, minister van sport, kuns en kultuur, het Khumbudzo Ntshavheni, minister van presidentskap, se omstrede besluit gesteun om sowat 4 500 onwettige mynwerkers wat ondergronds in Stilfontein, Noordwes vasgekeer is, “uit te rook”.
Ntshavheni het Woensdag gesê die regering sal nie hulp aan “misdadigers” stuur nie.
“Ons stuur nie hulp aan misdadigers nie. Ons gaan hulle uitrook, hulle sal uitkom. Misdadigers moet nie gehelp word nie; misdadigers moet vervolg word. Ons het hulle nie soontoe gestuur nie en hulle het nie daarheen gegaan tot voordeel van die republiek nie, so ons kan hulle nie help nie,” het Ntshavheni gesê.
McKenzie en ActionSA se Herman Mashaba en Funzi Ngobeni het steun uitgespreek vir Ntshavheni se standpunt.
“Dankie minister Ntshavheni, laat daar rook wees, baie rook,” het McKenzie gesê.
Mashaba het Ntshavheni geloof. “Ek ondersteun ten volle die minister se standpunt oor hierdie een. Suid-Afrika moet vriendelik wees en vriendelikheid en empatie toon teenoor wetsgehoorsame burgers, nie misdadigers nie.”
“Goed so minister. Dit is die enigste taal wat terroriste verstaan,” het Ngobeni gesê.
Ntshavheni meen dit sal riskant wees vir die polisie om ondergronds te gaan.
“So jy wil hê ons moet ons wetstoepassers stuur om hul lewens te waag as gevolg van misdadigers wat ons land wil vernietig? Wat as ons die polisie of die weermag daarheen stuur om hulle van kos te voorsien en die plek ontplof en stort ineen, wat sal gebeur?
“Nee, ons stuur geen hulp nie, hulle sal uitkom. Dit is nie ons taak om liggame van misdadigers terug te kry nie.”
Thuli Madonsela, voormalige openbare beskermer, het ook Ntshavheni verdedig.
