Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap SOC Beperk (SANRAL) beoog om herstelwerk by die Hugenote-tonnel binne die volgende twee weke te voltooi na die skade wat opgedoen is toe ‘n bus binne die tonnel in vlamme opgegaan het.
“Dit is moeilik om ‘n presiese sperdatum te gee vir die voltooiïng van herstelwerk en die opening van die tonnel, maar ons stel onsself ‘n teiken van tussen een tot twee weke om die werke te voltooi,” het SANRAL-woordvoerder Lwando Mahlasela Sondag gesê.
“Ons sal poog om dit gouer te doen, afhangende van die uitkoms van die strukturele assessering, en gegewe die druk op alternatiewe roetes.”
Die bus wat in vlamme uitgebars het is Vrydagaand omstreeks 23:30 in die Hugenote-tonnel aangemeld.
Een reaksietonnelbeampte het aan geringe rookinaseming gely. Die beampte is op die toneel behandel en hospitaal toe geneem vir waarneming.
Die buswrak is Saterdag verwyder.
“Alhoewel dit duidelik is dat die brand uit die bus ontstaan het, is dit op hierdie stadium nie duidelik wat die brand veroorsaak het nie,” het Mahlasela gesê.
“Ons is besig om die skade te assesseer om die strukturele integriteit van die betrokke gedeelte van die tonnel te bepaal. Die strukturele integriteit hou spesifiek verband met die betonvoering aan die kante en die plafon van die tonnel. Sodra hierdie assessering voltooi is, sal ons ‘n beter begrip hê van die herstel en/of vervanging van hierdie elemente.”
Ander toerusting, insluitend beligting, kommunikasie, brandopsporing en ventilasie, ens., het ook uitgebreide skade oor ‘n gedeelte van ongeveer 50 m van die 3.9 km lange tonnel opgedoen.
“Die tonnelbedryfstelsel werk goed, soos gedemonstreer in die opsporing en reaksie op hierdie voorval.
“Sleuteluitdagings bly hoër verkeersvolumes en padwaardige toestand van voertuie wat die tonnel gebruik.”
Die volgende alternatiewe roetes is beskikbaar:
- Van Worcester na Kaapstad – via Wolseley-Wellington-Paarl na N1
- Van Kaapstad na Worcester – via Paarl – Wolseley-Worcester
- Die N2 kan via Worcester en Villiersdorp bereik word
- Bainskloofpas is slegs oop vir ligte motorvoertuie
- R101 Du Toitkloofpas is oop met ten minste twee stop/ry-roetes (verwag vertragings)
- Swaar motorvoertuie moet R46 (Touwsrivier-Ceres-Gouda-Kaapstad) vermy weens die lengtebeperking van 15 m op Franschhoekpas.
