Oud-leerder van Centurion Hoërskool koelbloedig vermoor

’n 64-jarige man is Dinsdagaand vermoor in ’n huisroof in Erasmusrand.

Mnr Visser, ‘n oud-leerder van Hoërskool Verwoerdburg (nou Centurion), is Dinsdagaand koelbloedig doodgeskiet in ‘n huisroof in Erasmusrand.

Kaptein Johan van Dyk, polisiewoordvoerder, sê die skietery het omstreeks 21:00 plaasgevind.

Volgens inligting van die toneel het die slagoffer se broer gesê hy was in sy kamer toe hy stemme buite sy venster gehoor het. Toe hy opkyk, het hy gesien hoe ‘n man in ‘n klapmus van buite ‘n geweer op hom rig.

Die rower het twee keer deur die venster op die man geskiet waarna hy uit die kamer gehardloop het om die oorledene om hulp te gaan roep en om sy vuurwapen te bring. Hy het die kamerdeur agter hom toegemaak toe hy gevlug het.

Die man het toe gehoor hoe sy venster breek en hoe die verdagte(s) sy kamer binne gegaan het. Mnr VIsser het probeer om die binnedeur toe te hou om die ander inwoners te probeer beskerm, maar die verdagtes het hom en sy broer oorval.

Die oorledene se broer het in die gang afgehardloop, maar voordat hy die einde daarvan bereik het, het hy nog ‘n geweerskoot gehoor en het dadelik op die vloer gaan sit.

“Een van die verdagtes het vir sy selfoon gevra, en hy het aan die verdagte gesê dat alles in die kamer was waar hulle ingebreek het, aangesien die ander verdagte die oorledene met ‘n vuurwapen gevange gehou het. Mnr Visser het probeer om weerstand te bied en die verdagte het hom geskiet.”

Hy het gesê die verdagtes het deur die slaapkamervenster ingekom en is by dieselfde venster uit.

Mnr Visser is deur mediese noodpersoneel op die toneel dood verklaar.

Kaptein Van Dyk het bevestig dat ‘n selfoon, ‘n skootrekenaar en ‘n onbekende bedrag geld gesteel is.

Hierdie koelbloedige moord word betreur – die plek van veiligheid van die inwoners is deur kriminele in ‘n bloedbad omskep.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui