Die 17-jarige wat beskuldig word van moord op Hoërskool Overberg, leerling, Deveney Nel, het Maandag vlugtig in die Caledon-landdroshof verskyn.
Die Wes-Kaapse polisie het die tienerseun, wat glo ‘n leerling aan dieselfde skool as Deveney is, Vrydag in hegtenis geneem.
Nel, ‘n graad 10-leerling, is byna twee weke gelede dood in ‘n stoorkamer by die skool gevind, kort nadat haar ma haar as vermis aangemeld het toe sy nie opgedaag het vir haar skoolvervoer terug huis toe na Grabouw nie.
Die media is Maandag verbied om die hofsaal binne te gaan omdat die beskuldigde minderjarig was. Hy kan ook nie genoem word nie.
Hy is nie gevra om te pleit nie en die saak is tot 18 September uitgestel.
Die tiener is ná sy hofverskyning na ’n plek van veiligheid geneem.
