SAPD – Rassisme in die werksplek. Polisie moet wit kolonel bevorder

ʼn Wit kolonel in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) moet bevorder en terugwerkend vergoed word.

Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) het bevind die SAPD het hom aan onbillike arbeidspraktyk skuldig gemaak toe hy lt.kol. Jacques van den Berg in 2022 weens sy velkleur nie bevorder het nie.

Van den Berg het tydens die onderhoudproses die hoogste keuringspunte behaal en is deur die paneel as die beste kandidaat aangewys om in die pos aangestel te word. Tog is ʼn swart kandidaat met laer keuringspunte bó Van den Berg tot die pos bevorder.

Die SAPD het selfs aangevoer hulle moet gehoor gee aan rasseteikens en daarvolgens het Van den Berg nie binne die aangewese rassegroep geval nie en kon hulle hom nie aanstel nie.

Volgens Theunis van Staden, organiseerder vir die Openbare Sektor vir Solidariteit, het die SAPD gedurende die verrigtinge sover gegaan as om te sê Van den Berg sou nooit die bevordering kry nie aangesien sy velkleur wit is.

“Weerstand bou steeds op téén rassediskriminasie in die werkplek onder die sluier van transformasie. Dit verteenwoordig ʼn absolute versperring op die nie-aangewese rassegroepe – iets wat in stryd staan met Solidariteit se 2023-skikking met die regering oor rassewette.

“Dit is duidelik dat ʼn sekere interpretasie van die Wet op Gelyke Indiensneming deur die SAPD gebruik word as ʼn rookskerm waaronder onbillike arbeidspraktyke toegepas word.

“Die Van den Berg-saak is een van ʼn reeks soortgelyke sake waar hierdie onbillike arbeidspraktyke deur die SAPD deur die howe uitgewys en gelukkig ook aangeraak word,” sê Van Staden.

Die werklikheid van wetgewing oor gelyke indiensneming en bevoordeling in die werkplek van voorheen benadeelde groepe in Suid-Afrika word nie ontken nie.

Tog waarsku Solidariteit werkgewers, en veral ook die SAPD, dat ras nie as maatstaf en absolute versperring deur werkgewers aangewend kan word met die vul van poste en met aanstellings nie.

Regstellende aksie moet op ʼn genuanseerde wyse geskied soos ooreengekom in die skikking tussen Solidariteit en die Suid-Afrikaanse regering by die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) verlede jaar.

“Die KVBA het in hierdie uitspraak erkenning aan hierdie ooreenkoms gegee en aangevoer dat die beginsels wat daarin opgeneem is, grondige en algemeen aanvaarde beginsels is wat in Suid-Afrika toegepas behoort te word.

“Soos in die Van den Berg-saak sal Solidariteit aanhou om hierdie onbillikhede in die werkplek teen te staan en te beveg. Rasreëls moet uit die werkplek verwyder word.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui